Nou op die lug

Spitstyd

15:00-18:00

Interaktief

TIGER KING (TV-REEKS / NETFLIX)

TIGER KING (TV-REEKS / NETFLIX)
TIGER KING (TV-REEKS / NETFLIX)
Datum uitgereik: Vrydag 10 April 2020
Akteurs: Joe Exotic

Gradering: 8

‘n Mens moet versigtig wees met so ‘n oordosis van dikwels oppervlakkige vermaak dat jy nie bedwelm of oorbluf raak en net klik-klik-klik, dan slegs na 5 sekondes kyk, en weer voort-klik na die volgende lokprent wat sommer net oppop nie. Te veel van ‘n goeie ding kan jou brein laat vries. Een lokprent wat my aanhoudend bly teister het, en wat ek later uit radeloosheid gekyk het omdat dit elke keer voorgekom het wanneer ek na iets wil kyk, is TIGER KING. Baie mense het hulle dalk vroeër jare verlustig, of sou dit verlekker wees, in Jerry Springer se platvloerse programme. TIGER KING val soos ‘n vet, plomp pannekoek in die middel daarvan. Dit laat Springer na Jane Austen lyk.

TIGER KING op Netflix is ‘n dokumentêr wat natuurlik op die waarheid gegrond is, en gaan oor ‘n eksentrieke bakkebaard wat homself Joe Exotic genoem het. Hy het dieretuine geopen waarin daar op ‘n kol tot 222 tiere was, om nie te praat van al die ander eksotiese diere wat in hokke gevange gehou is nie. ‘n Vrou, Carole Baskin, wou teen hom optree. Daar is toe beweer dat hy haar probeer doodmaak het, en ook dat hy ‘n klomp tiere doodgeskiet het, en roekeloos met omstanders en sy personeel se lewens omgegaan het. Een het selfs haar arm verloor, en toe weer vir hom gaan werk. Hy het met een van die ander outjies daarnaby getrou.

Wat in daardie kampe aangegaan het, en die verkullery, omkopery, gevaarlike toertjies swendelary, en misbruik van die arme wilde diere, sal jou teen die mure laat uitklim. Wees gewaarsku, dit voel later of jou oë jou in die steek laat. Jy sal jou kop in jou hande laat sak van ongeloof, en daar is feitlik geen manier om hierna te vraatkyk nie, jy het ‘n blaaskans nodig, soms selfs met ietsie sterker as koffie in die hand om dit te oorleef. TIGER KING is soos niks wat jy al tevore in ‘n dokkie gesien het nie. Oorbluffend.

TIGER KING (TV-REEKS / NETFLIX)
TIGER KING (TV-REEKS / NETFLIX)
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 15)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?