CAPTAIN MARVEL

CAPTAIN MARVEL
LV
CAPTAIN MARVEL
Datum uitgereik: Vrydag 8 Maart 2019

Gradering: 7

Marvel strokies-foendies sien al maande lank uit na CAPTAIN MARVEL. In hierdie supersoniese aksiefliek uit die Marvel univers moet die menslike Carol Danvers (‘n knap Brie Larson) keer dat twee alien-weermagte uit die buitenste ruim mekaar opdons. Sy word egter deur haar mentor Yon-Rogg (Jude Law) gewaarsku dat haar grootste swakheid haar menslikheid en selfs weerloosheid is wat uit haar moeilike kinderdae kom. Samuel L. Jackson is charismaties en snaaks as die bekkige Nick Fury wat nie sy mond kan hou nie! En Annette Bening het wonderlike fliekgesag as die Supreme Intelligence.

Die fliek word verder gekaap deur ‘n oulike kat wat elke toneel oorneem waarin hy/sy voorkom. Hy/sy is die mees vermaaklike element in hierdie fliek. Wag tot jy sien wat hierdie dierasie, al spinnende, kan aanvang!

Die spesiale effekte kom alleenlik tot hul volle reg in Scene X-Treme-teaters, 4D-X-teaters en Imax, alhoewel sulke gevegte deesdae gaap-gaap, sug-sug en wag vir die storie om verder te beweeg-tonele word. ‘n Mens kan ook net so lank na karakters kyk wat op hulle rûens val, maar niks oorkom behalwe om liggies te kreun nie.

Die fliek is verder ‘n teruggryp na die jare negentig – lekker retro! Ouer luisteraars mag met nostalgie terugdink aan videowinkels (met video’s! Nie DVD’s nie!) en outydse rekenaars. Maar daar is geen ware storie-verrassings nie, behalwe dat die skepper van die karakters, Stan Lee, weer in ‘n kameeverskyning voorkom. En natuurlik is daar nog ‘n belangrike toneel nadat van die titels gerol het.

CAPTAIN MARVEL was so-so.

CAPTAIN MARVEL
CAPTAIN MARVEL
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 5)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?