A STAR IS BORN

A STAR IS BORN
SLD
A STAR IS BORN
Datum uitgereik: Vrydag 12 Oktober 2018
Regisseur: Bradley Cooper

Gradering: 9

Elke weergawe van A STAR IS BORN se aanslag is anders. Die nuutste een deur Bradley Cooper gaan ook oor die ontmoeting tussen ‘n sanger wat die druk met drank en dwelms probeer versag, en sy ontmoeting met ‘n supertalentvolle sangeres wat graag ‘n kans wil hê om haarself te bewys (Lady Gaga). Die rolprent vertel dan hoe hulle verlief raak op mekaar en hoe haar loopbaan syne verbysteek. Hoe hanteer hy dit?

Natuurlik word lyding ‘n bietjie verglans en opgetert in hierdie weergawe, maar dit wys steeds hoe roem sommige mense vernietig, en hoe ander floreer daarop en dit hulle loopbane tot in die stratosfeer skiet. Die tonele waar die uitstekende Bradley Cooper en die uitmuntende Lady Gaga voor derduisende mense sing, word briljant en realisties uitgebeeld. Die nuwe weergawe van A STAR IS BORN is een van die min flieks wat jou nie net tot op die verhoog neem nie, maar jou laat verstaan hoe dit moet voel om voor so baie mense op te tree.

Uiteindelik gaan die rolprent oor die verhouding tussen ‘n talentvolle, maar weerlose meisie op die drumpel van haar loopbaan, en ‘n gesoute, lewensmoeë sanger wat besig is om homself te vernietig. Daardie wisselwerking en brutale aanslag op liefde en sielsgeluk word knap uitgebeeld. Jy móét dit in die beste moontlike teater met Dolby Atmos-klank sien.

Die nuwe A STAR IS BORN word aanbeveel as een van vanjaar se grootste rolprentervarings.

A STAR IS BORN
A STAR IS BORN
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 16)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?