ANT-MAN AND THE WASP

ANT-MAN AND THE WASP
LVPG
ANT-MAN AND THE WASP
Datum uitgereik: Vrydag 6 Julie 2018
Regisseur: Peyton Reed

Gradering: 7

‘n Mens moet klein mannetjies nooit onderskat nie. Scott Lang (Paul Rudd) kan homself laat krimp tot so groot soos ‘n mier. Só kan hy hom in die kleinste skeurtjies inwurm om die grootste skurke te ontmasker. Maar dié slag het hy ‘n formidabele vrou wat hom ondersteun in die kragtige vorm van Evangeline Lilly. Jy mag haar onthou van die LOST TV-reeks. Wat ANT-MAN AND THE WASP so verfrissend maak, is sy aweregse humor wat wys dat die fliek homself nooit, soos ander Marvel-strokiesfilms, ernstig opneem nie.

Daar is ook ‘n stewige karakterbalans. Michael Peña as Scott se beste vriend, is so neuroties, hy sou Prozac na anti-depressante dryf. Maar die perdeby-vrou is eintlik die brein agter die rolprent, en sy inspireer die mierman om tot dubbel sy grootte uit te bars.

ANT-MAN AND THE WASP is vrolik, die kwinkslae skaterlag-snaaks, en elke karakter het ‘n doel en lewer ‘n unieke bydrae tot die fliek. Boonop is die einde nie so oorweldigend soos in ander Marvel-flieks nie. Wat ook snaaks is, is dat Ant-Man nie altyd die regte knoppie druk om homself te laat krimp nie, wat tot verleentheid en komiese misverstande aanleiding gee. As jy van die verhoogde petrolprys wil vergeet, koop springmielies, vat die kinders, en gaan tjil saam met ANT-MAN AND THE WASP. Dit sit woema in aksieflieks.

ANT-MAN AND THE WASP
ANT-MAN AND THE WASP
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 5)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?