MANCHESTER BY THE SEA

MANCHESTER BY THE SEA
LV
MANCHESTER BY THE SEA
Datum uitgereik: Vrydag 6 Januarie 2017
Regisseur: Kenneth Lonergan

Gradering: 10

Ek het MANCHESTER BY THE SEA aangewys as 2016 se beste rolprent omdat dit net ses dae na Nuwejaar begin en ʼn mens nie die fliek vir ʼn jaar wil terughou sonder om die eer te kry nie.

MANCHESTER BY THE SEA is een van die beste rolprente ooit uit Amerika, en sal sy plek langs klassieke films soos AMERCAN BEAUTY inneem as manjifiek. Dit is vir almal wat verlies probeer verwerk en hulleself probeer vergewe, maar nie daarin kan slaag nie. Dit gaan oor die verwerking van woede en smart, die aanvaarding van verantwoordelikheid en die beheer neem oor jou eie lewe. Dit gaan ook oor aanbeweeg, maar veral om woede tersyde stel en jouself te aanvaar met al jou foute.

MANCHESTER BY THE SEA gaan oor ʼn pa van drie kinders (Casey Affleck) wie se broer sterf. In sy testament word bepaal dat hy na sy neef (ʼn skitterende Lucas Hedges) moet kyk. Daar is onmiddellik botsings en aggressie. Die rolprent handel oor die vredemaakproses en die besluite wat uiteindelik geneem word.

ʼn Rolprent wat so maklik ʼn melodrama kon geword het, bly stewig in die saal sit as ʼn drama. Minder is meer. Alles word onderspeel, met die beeld wat primêr die storie vertel. Alles lê ook in dit wat nie gesê word nie, of wat net gesuggereer word. Visuele simboliek en hoe menslikheid uiteindelik die oorhand kry waar dit by vergifnis kom, maak van MANCHESTER BY THE SEA ʼn tien uit tien film. Wees net gewaarsku: dit is nie op vermaak ingestel nie, maar is vir almal wat hulle rolprente ernstig opneem en daarvan hou om ʼn storie tydsaam en deeglik te ontgin.

MANCHESTER BY THE SEA is ʼn meesterstuk.

MANCHESTER BY THE SEA
MANCHESTER BY THE SEA
Publiek se gradering uit 10
   (Stemme: 52)

Hoeveel sterre gee jy hierdie fliek?