Nou op die lug

Deurnag (Sondag)

00:00-05:00

Empty

Interaktief

Programme

TERUG

Dis Klassiek

Vorige Programme

Woensdag 23 September 2020
21:10-22:00

Luister na die Klavierkonsert no. 1 van Maria von Weber. Dié Duitse komponis was 'n briljante pianis, en het as solis by die première van altwee sy klavierkonserte opgetree. Alhoewel Von Weber se komposisies as oorgangswerk tussen die Klassieke en Romantiese periodes gesien word, is daar tog uniekhede wat hom as ‘n komponis met ‘n eie stem maak. Daar is byvoorbeeld. geen cadenzas by die klavierkonsert waarna ons luister nie. Die tweede beweging is amper net vir ‘n kamerorkes geskryf wat die klavier begelei, en die gebruikmaking van verskillende ritmes in die finale is bewys hiervan.

Die slotwerk is Saint-Saens se HAVAISE. In sommige tale word dit as die “habanera” aangedui, maar daar is tog ‘n klein verskil, veral as gekyk word na die oorsprong van dié dansgenre. Saint-Saens het sy werk eers vir viool en orkes gekomponeer, maar later self die begeleiding vir orkes gedoen. Dit is gewoontlik ‘n eenbeweging werk in kleiner afdelings, wat deur verskillende tempi aangedui word. Saint-Saens het graag gereis, en lande soos Algerië, Egipte en Latyns-Amerika besoek, en kenners meen Saint-Saens se fokus op dié dans spruit uit die kulture van die lande in teenstelling met Bizet se Habanera. In laasgenoemde geval het hy glad nie enige land besoek waar die dansvorm eie is aan hulle kultuur nie.

Woensdag 16 September 2020
21:10-22:00

Luister na die overture tot die drama CORIOLAN van Heinrich von Collins. Dit handel oor die lewe van die Romeinse mitologiese vegter Coriolanus, waaroor Shakespeare ook ‘n drama geskryf het. Beethoven het Von Collins se teks baie noukeurig gevolg en die emosies in die overture goed uitgebeeld, soos bv. die gebruik van ’n mineur toonsoort vir die dele van die drama wat die vegter se twyfel en vrese uitbeeld, en dan weer ‘n sterk majeur toonsoort om sy veglustigheid en aanvoering van sy magte te verklank.

Nog ’n werk wat gehoor kan word, is die Concertino vir tjello, viool en orkes van Donizetti. Hierdie Italiaanse komponis het ‘n Duitse operakomponis as eerste leermeester gehad, wat hom beïnvloed het om in hierdie genre te spesialiseer. Donizetti het veral sy merk as komponis van die bel canto-styl gemaak. Sy magdom ander werke word dikwels geïgnoreer: 16 simfonië, 193 liedere, en heelwat instrumentale concerti, waarvan die Concertino een is. Die 193 operas het hierdie soort werke heeltemal oorskadu.

Die Makabera Dans van Saint-Saens het eers as ’n kunslied vir stem en klavierbegeleiding die lig gesien. Later het die komponis dit vir volle orkes met ’n soloviool verwerk. Dit is toe as ’n kort toondig gemerk. Deur die jare is die werk egter soveel kere verwerk dat dit soms moeilik is om te weet wat die oorspronklike weergawe is. Dit het al as ‘n kort balletitem gedien, as tussenspel by ’n Ibsen-drama, en as deel van meer as een rolprentklankbaan. In hierdie program word dit uitgevoer deur ’n jeugorkes waar die slagwerkinstrumente ’n groot rol speel.

Die slotwerk is die Noorweegse Danssuite Opus 35 van Grieg. Dié Noorweegse komponis het nes talle Skadinawiese komponiste, groot belangstelling getoon in hulle volksmusiek, en dit in groot werke verwerk. Grieg se Holberg- en Peer Gynt-suites is alombekend, maar die vier Noorweegse danse het eers later gewildheid geniet. Grieg het dit in 1880 as ‘n werk vir vier hande gekomponeer, maar Hans Sitt het dit vir volle orkes verwerk. Dit is hierdie weergawe wat in die program voorgespeel word.

Woensdag 9 September 2020
21:10-22:00

Luister na ’n tema van Haydn, waarop Carl Cherny ‘n stel vaiasies vir klavier en orkes gekomponeer het. Dit is die werk wat as Haydn se GESANG VIR DIE KEISER bekend staan. Dit het later die volkslied van Oostenryk geword, maar weens ’n geskil het die Oostenrykers die lied vervang, en Duitsland het die werk as amptelike volkslied aanvaar. Cherny, die Oostenrykse komponis van Tjeggiese oorsprong (1791 – 1857), het veral naam gemaak as musiekonderwyser. Hy het klas geloop by Beethoven. Cherny het meer as ’n duisend werke gekomponeer waarvan die meeste vir soloklavier is. Hy het ook sewe simfonieë nagelaat, maar eers onlnags is twee addisionele simfonieë ontdek.

Die tweede werk in die program is Mozart se Vioolkonsert no. 4 in A majeur. Dit is een van vyf concerti vir die instrument wat hy gekomponeer het toe hy nog konsertmeester was in diens van die Aartsbiskop van Salzburg. Later het Mozart nog twee ander vioolkonserte gekomponeer. Die werke is nie van sy beste werke as dit by tegniese vereistes kom vir die solo-instrument nie. Baie meen Mozart het eerder ‘n voorliefde vir ander genres gehad, soos die simfonie, die klavierkonsert, strykkwartet en geestelike werke, soos die Mis. In die tweede beweging gebruik Mozart materiaal wat hy later in sy Concertone vir twee Viole en Orkes gebruik het.

Woensdag 2 September 2020
21:10-22:00

Luister na Mendelssohn se Tweede Konsert vir twee klaviere en orkes in A mineur. Mendelssohn was self ‘n goeie pianis en kollegas soos Liszt het ‘n hoë agting vir sy vertolkings gehad. Hy het aanvanklik nie veel erg gehad aan sy eie werk gehad nie en was baie krities oor sy komposisies. Hy het sy eerste aantal simfonieë vir strykers afgemaak as klassieke musiek vermaak en selfs sy eerste klavierkonsert het nie sy volle erkenning ontvang nie. Hy het toe sy aandag verskuif na liedere sonder woorde en ander komposisies. Vir jare het niemand geweet van Mendelssohn se twee konserte vir twee klaviere en orkes nie. Dit is eers onlangs ontdek. Dit het ook geen opusnommers nie, wat aandui dat die werke destyds iewers stof versamel het. Die kenners wat eers in 1950 van die werke kennis geneem het, meen dit was uitsluitlik vir Mendelssohn en sy suster, Fanny, gekomponeer.

Magda de Vries is ‘n bekende slaginstrument-kunstenaar. Sy bespeel die marimba in ‘n verwerking van J.S. Bach se Concerto in A mineur in hierdie program. Sy het op 15-jarige ouderdom begin met lesse in hierdie groep instrumente. Sy het ‘n magdom pryse in Suid-Afrika gewen en haar studies in Japan gaan voortsit, waar sy groot indruk gemaak het. Sy het ook haar debuut as solis in Tokio gemaak. Sy het later na die Verenigde Koninkryk vertrek waar sy talle konserte gelewer het en saam met ‘n verskeidenheid ensembles opgetree het. Terug in Suid-Afrika het sy met al die vernaamse klassieke musiekorkeste opgetree. Sy het saam met David Houghton Acoustics Moodz gevorm en hulle het talle konserte in die land gehou. 

Die laaste werk in die program is Bruch se AVE MARIA. Die werk het sy ontstaan in die kantate, DIE BRANDENDE KRUIS – die 6de beweging. Bruch het die deel verwerk as ‘n aparte komposisie vir tjello en orkes. Hy het dit opgedra aan sy vriend en bekende tjellis van daardie tyd, Robert Hausman. Deel van die verwerking van Bruch was om die werk van sy oorspronklike D mineur na A mineur te transponeer. Die werk verg ‘n sterk tegniek en ook gevoelvolle interpretasie, en Bruch het self na sy AVE MARIA as ‘n gunstelingwerk verwys.

Woensdag 26 Augustus 2020
21:10-22:00

Luister na die overture tot Joachim Raff se Romeo en Juliet. Hierdie is geleentheidsmusiek vir die opvoerings van Shakespeare se drama met dieslfde naam. Raff het eintlik nog drie ander Romeo en Juliet-overtures gekomponeer. Hy het ook ’n soortgelyke werk vir Macbeth gedoen.

Die tweede werk is ’n fluitkonsert van Leopold Hoffman. Hy het geleef van 1738 tot 1793. Hy het 14 concerti vir fluit en orkes nagelaat. Sommige van die werke het ongelukkig verlore geraak, maar daar is wel vermelding daarvan in geskrifte wat die lewe en werk van Hoffman, ’n Oostenrykse komponis, beskryf. In daardie jare het die fluitspeler aan die hof van Regenburg, Florante Agostinelli die toon aangegee en Hoffman het dan ook die meeste van sy fluitwerke aan hierdie virtuoos opgedra.

Die laaste werk is ‘n simfonie van Johann Baptiste Vanhal. Dit is nogal opvallend dat die werk as ’n een-beweging-simfonie aangebied is. Tydens die middel, stadige deel, speel ‘n solotjello saam met die eerste viole. Hierdie praktyk was ongekend tydens die tyd van Vanhal, en later toe Haydn en Mozart op die toneel verskyn het. Vanhal het nie minder nie as 80 simfonieë gekomponeer, maar later sou Haydn hom verbysteek wat dié rekord betref.

Woensdag 19 Augustus 2020
21:10-22:00

Luister na die Egmont Overture van Beethoven. Dit is musiek vir Goethe se drama met dieselfde titel. Die werk van Beethoven bestaan uit die overture en nege dele vir sopraan en orkes. Beethoven het in 1809 ‘n vertellerdeel bygevoeg, en aangedui dat dit manlik moet wees, maar die verteller is nie deel van Goethe se drama nie.

Die tweede werk is Gounod se Simfonie no. 2. Dit is een van twee vroeëre orkeswerke wat onmiddellike sukses en roem vir die jong komponis besorg het. Baie later het hy weer sy hand aan dié genre gewaag, maar ongelukkig nie die derde simfonie voltooi nie en die klein simfonie wat as sy 4de simfonie kon gedien het, was slegs vir nege instrumente gekomponeer. Dit is jammer dat die briljante student wat die Konserwatorium Prys as student destyds gewen het, en so baie ander Franse komponiste soos Massenet, Debussy en Fauree beinvloed het, nie meer vir die genre geskryf het nie.

Die laaste werk is Mikael Ippolitov-Ivanov se Jubileum-mars. Dié komponis uit Georgië se werk is dikwels gebaseer op volksmusiek van die land wat tussen die twee Kaukasiese gebergtes tussen die Swart en Kaspiese See geleë is. Dit is dan ook sy Kaukasiese Sketse – twee suites vir orkes – wat uitstaan. Hy het ook heelwat rolprentmusiek gekomponeer, asook enkele operas en koorwerke. Hy het selfs ook ‘n Turkse Mars gekomponeer.

Woensdag 12 Augustus 2020
21:10-22:00

Luister na die Klavierkonsert no. 11 van Mozart. Hy het die konsert gekomponeer tydens ‘n besoek aan Wene. Dit is deel van groep konserte wat in dié Oostenrykse stad gelewer is, hoofsaaklik om die konsertgehoor daar tevrede te stel. Mozart het dikwels self as solis opgetree. Hierdie drie konserte word as van sy beste uit die totaal van 23 gesien.

George Bizet het sy eerste simfonie op die ouderdom van 17 jaar gekomponeer. Hy het die werk as ‘n werkstuk vir sy finalejaarstudies aan die konserwatorium van Parys geskryf. Hy was veral beïndruk deur Gounod, en baie kenners meer daar is heelwat bewyse van dié bewondering in Bizet se Simfonie no. 1 te hoor. Die jong komponis het geen begeerte gehad om die werk uit te voer of om dit te publiseer nie. Dit is tragies dat hy dit nooit in sy leeftyd gehoor het nie. Dit is eers 80 jaar na die voltooiing daarvan vir die eerste keer uitgevoer. Bizet het wel dele daarvan in van sy andere werke gebruik.

Woensdag 29 Julie 2020
21:10-22:00

Luister na die Vioolkonsert no. 8 in A mineur van Louis Spohr. Na die dood van ‘n paar Barokkomponiste wat groot bydraes vir die viool nagelaat het, soos Torelli, Vivaldi, Geminiani en Locatelli, het die genre byna van die toneel verdwyn, totdat Mozart met sy vyf concerti asook Josef Myslivecek se agt vioolkonserte die soort werk weer laat herleef het. Komponiste soos Viotti en Spohr het by hulle oorgeneem en verseker dat hierdie vioolkonsert ‘n belangrike item in die musiekrepertorium van orkeste en soliste bly. Spohr het nie minder nie as 15 nagelaat.

Nog ‘n werk waarna jy kan luister is Carl-Maria Von Weber se Simfonie no. 1 in C majeur. Hy het op 20-jarige ouderdom by die hof van die Hertog van Wurttemberg-Ols aangemeld, en het musiek verskaf vir ‘n oase van kultuur in die woud van Bo-Swabië. Von Weber het die pragtige woud en kasteel baie romanties gevind, en dit was dan ook die inspirasie vir baie van sy werke. Hy het ook ‘n klein kamerorkes tot sy beskikking gehad om van sy werke uit te voer, as ‘n soort eksperiment. Die Hertog het ook daarin gespeel. Die Simfonie no. 1 in C-majeur bestaan uit 4 dele: Allegro con fuoco, Andante, Scherzo en Finale met Presto die tempoaanduiding.

Die program word afgesluit met ‘n deel uit Franz Waxman se rolprentmusiek vir CAPTAIN COURAGEOUS.  Hy is ‘n Duitse komponis wat geleef het van 1906 tot 1967. Hy het op aandrang van sy familie in die bankwese gaan werk, maar in sy vrye tyd musieklesse geneem, hoofsaaklik  klavier en komposisie. Hy het later die bankwese vaarwel toegeroep en kontak gemaak met die rolprentbedryf. Daar het hy eers as verwerker opgetree en later volle klankbane vir groot rolprente soos BRIDE OF FRANKENSTEIN, SUNSET BOULEVARD en A PLACE IN THE SUN gekomponeer.

Woensdag 22 Julie 2020
21:10-22:00

Luister na ’n orrelkonsert van Handel. Dit kom uit sy versameling, gemerk Opus 4. Hy het hierdie stel van ses concerti in ‘n jaar voltooi so tussen sy ander werke deur. Sy Opus 7 het veel later gevolg tussen 1740 en 1751. Dit was ook ‘n stel van ses concerti, wat eers na sy dood gepubliseer is. Die komponis het versoek dat n “kamer”-orrel gebruik word vir die solopartituur. Hy het ook die nota gemaak by sy operas en oratoios. Handel se orrelconcerti is hoofsaaklik gekomponeer om as intermezzos te dien tussen dele van oratorios deur.

Die trompetspeler, Alison Balsom, is vandag die voorste trompetspeler in die bedryf. Sy het op sewejarige ouderdom met trompetlesse begin, en was later deel van die Royston Town Blaasorkes. Sy het op 15-jarige ouderdom by die Nasionale Jeugorkes van Brittanje aangesluit, en in 2001 met haar sololoopbaan begin. Sy het al die vernaamse trompetwerke uitgevoer en opgeneem. Een daarvan is die Trompetkonsert van Jan Neruda waarna jy in hierdie program kan luister.

Die twee stelle Slawiese Danse van Dvorak het in 1878 en 1886 verskyn. In totaal is daar 16 van die danse wat geinspireer is deur die eienskappe van die Boheemse kultuur. Die werke is oorspronklik vir vier hande gekomponeer, maar Dvorak se uitgewer het die komponis gevra om dit vir orkes te verwerk. Luister na Dans no. 8 uit die tweede stel, Opus 72.

Woensdag 15 Julie 2020
21:10-22:00

Luister na Brahms se Simfonie no. 2 in D majeur, opus 73. Die Duitse komponis het vier simfonieë nagelaat. Nommer 4 is by die meeste mense die gunsteling, maar al Brahms se simfonieë kan as meesterwerke gesien word. Brahms het die werk in 1877 in die bestek van ‘n paar maande gekomponeer. Dit is verstommend hoe vinnig hy dit voltooi het, veral omdat hy 21 jaar lank aan sy Simfonie no. 1 geswoeg het. Baie kenners meen dis asof Brahms ‘n mate van vryheid ervaar het met sy komposisies ná die eerste simfonie. Hy het dit in ‘n Oostenrykse dorpie gekomponeer, en talle vergelyk dit met Beethoven se Pastorale Simfonie (Simfonie no. 6) wat ook die platteland en sy natuur uitbeeld. Brahms het gevoel die werk is swaar en neerslagtig, maar ander meen dit het ‘n opgewektheid wat hierdie nuutgevonde “vryheid” van Brahms weerspieël. Dit is vir die eerste keer deur die Weense Filharmoniese Orkes uitgevoer, en was van meet af ‘n sukses.