Programme

TERUG

Radioteater

Soek

Datums
calendar calendar

Volgende Programme

Donderdag 18 Oktober 2018
20:00-21:00

DIE TESTAMENT deur Rhona Peens
Regie: Evert Snyman

‘n Argiefdrama wat in 2006 die derde plek in die RSG/Sanlam radiodrama-skryfkompetisie behaal het. Dit is tans ‘n voorgeskrewe werk en word as studiehulp heruitgesaai.

Oom Josef Rossouw sterf, en sy familie en werkers word na die prokureur se kantore genooi sodat die testament vir hulle gelees kan word. Daar is miljoene rand in die boedel, maar dan word oom Josef se lys voorwaardes gelees... Skielik klink die belofte van ‘n stewige erfporsie eerder na ‘n nagmerrie, en veral Herman en Katinka se dogter, Zenobia, begin kapsie maak. Oom Josef dirigeer die gebeure meesterlik uit die graf, want hy wil seker maak dat sy familie nie die geld sal gebruik om hulle lewe te verwoes nie. Die drama neem ‘n interessante en onverwagse wending, en wys op die waarde van gesinsbande en om die belangrike dinge in die lewe met jou geliefdes te deel.

Die spelers is Henk Hugo, Anrich Herbst, Helena Hugo, Eloise Cupido, Denver Vraagom, Marina Coetzee, Anton Engelen en Evert Snyman.

Donderdag 25 Oktober 2018
20:00-21:00

SOEK deur Madeleine Volschenk
Regie: Anrich Herbst

Letsie verdwyn spoorloos uit ‘n gastehuis op die Kaapse platteland. Wat het met haar gebeur? Die ander gaste leer mekaar en die eienaars beter ken terwyl hulle bespiegel oor haar en die land se veiligheid. Wanneer Hester Ruiters by ‘n plattendse gastehuis kom kuier om te skryf aan haar eerste boek, verdwyn een van die ander gaste en kry sy baie idees vir haar nuwe boek. Is Letsie in gevaar? Het sy dalk iemand spesiaals ontmoet? Of is dit net nog ‘n misdaadstatistiek vir Suid-Afrika?

Die drama was ‘n finalis in die RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie van 2017.

Die spelers is Martelize Kolver (HESTER), Dean Balie (MVU), Cintainne Schutte (CARLA), André Weideman (JOUBERT), Charl van Heyningen (KRUGER) en Amor Tredoux (MEV. KRUGER).

Donderdag 1 November 2018
20:00-21:00

DIE FIETSTOER deur Joa Bekker
Regie: Leon van Nierop

Wat het hulle besiel? Oom Jannes op 64 (Dirk Stoltz) en die bloedjong Chilli op 22 (Christopher van der Westhuizen) besluit om per fiets saam deur die Karoo oor Prins Albert na George te ry. Hulle gee hulleself net tien dae tyd om die rit te voltooi. Elkeen het sy eie motief oor waarom hy op die toer gaan. Kort voor lank blyk dit dat nie elkeen is wie hulle voorgee om te wees nie, en aan die einde van die toer wag daar ‘n reuse verrassing op hulle...

Die ander spelers is Sulette Thompson, Miles Petzer, Christine Voorendyk en David Louw.

Hierdie drama was een van die finaliste in die RSG/SANLAM Radiodramaskryfkompetisie.

Donderdag 22 November 2018
20:00-21:00

OUMA OP HAAR BESEM deur Annika Swanepoel
Regie: Anrich Herbst

Die liefde tussen twee jongmense kom te staan voor ‘n toets van ouerdruk en vorige verhoudings. Wanneer Marinda, ‘n duikinstrukteur, en Jay-Z, ‘n sakeman wat eintlik wil skilder, se liefde in gedrang kom, deel Marinda se ouma ‘n belangrike les met Jay-Z se beherende ma. Sal dit genoeg wees om hulle liefde te red, en sal Jay-Z mans genoeg wees om te veg vir die een waarvoor hy lief is?

Die drama was ‘n finalis in die RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie van 2017.

Die spelers is June van Merch (OUMA), Liandé Valentyn (MARINDA), Wilhelm van der Walt (JAY-Z), Isadora Verwey (IONA), Karli Kleine (SUNE), en Mariechen Vosloo (AMY).