EposTwitter

Aanbieders

Hennie Maas

Hennie Maas
Biografie

Hennie het in 1965 by die SAUK in Johannesburg aangesluit as 'n aanbiedingsassistent. In dié hoedanigheid het hy deur programme tegnies saam te stel en uit te saai, kontak gehad met 'n hele paar dienste en persoonlikhede in die destydse SAUK. In 1967 word hy in dieselfde hoedanigheid na die SAUK in Pretoria verplaas en sluit hom 'n jaar later by die streeknuuskantoor aan. Laat in 1969 vertrek hy na Nederland om drie jaar lank by die Afrikaanse afdeling van Radio Nederland Wêreldomroep in Hilversum as omroeper te werk. Radio Nederland het o.a. programme in Afrikaans oor sy kortgolfsenders uitgesaai. Na afloop van die kontrak, keer hy terug na Suid-Afrika en word aangestel as nuusbulletinskrywer in Johannesburg by die nasionale nuuskantoor van die SAUK. Later in 1973 slaag hy 'n omroeperstoets en word aangestel as omroeper by die Afrikaanse Diens. Weer eens word hy Pretoria toe verplaas waar hy later organiseerder word van die Afrikaanse en Engelse radio in die Jakarandastad. In 1978 aanaar hy 'n betrekking as skakelbeampte by die chemiese maatskappy, Sentrachem, maar na 5 jaar lok die radio hom en hy sluit weer aan by die SAUK - dié keer as Organiseerder Afrikaanse en Engelse Programme in Pretoria. Hy word later Bestuurder: Aktualiteit en Sport by Radio Suid-Afrika in Johannesburg. In 1995 keer hy weer terug na Pretoria as bestuurder en met die sluiting van die SAUK-kantoor in Weavindpark, word hy Spesialis Omroeper by Radiosondergrense. Hennie het einde 2005 afgetree, maar behartig steeds progamme soos die Sterre en Planete en Op die veepos op 'n vryskutbasis.