EposTwitter

Aanbieders

Amore Bekker

Amore Bekker
Biografie

Amore het in 2004 by RSG aangesluit en bied weekliks die gewilde Tjailatyd aan tussen 15:00 en 18:00 in die middag. Daar praat sy met mense soos die omgewingskundige, Dave Pepler, die kruievrou, Antoinette Pienaar, en die nimlike Nataniël. Met haar Draai wiele, draai, stop kry luisteraars kans om deur middel van 'n kriptiese leidraad te raai watter plek sy van praat. En terwyl luisteraars met 'n honger maag in die verkeer sit en wonder wat om vir aandete te maak, bel sy 'n luisteraar vir 'n resep. Die resepte is so gewild dat 'n boek, Tjailaresepte, onlangs die lig gesien het.

Amore se filosofie is: No guts, no glory. Sy hou gereeld praatjies oor hoe 'n mens se instink werk en oor een van haar grootste passies in die lewe… kos. Tydens so 'n praatjie berei sy 'n gereg op die verhoog voor terwyl sy haar wyshede met die gehoor deel. Amore is mal oor reis en haar gunstelingstad is Istanbul. Dan het Amore ook 'n voorliefde vir lees en praat.

Amore ondersteun ook 'n welsynsorganisasie, BADISA, wat dienste lewer aan armoedige mense in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap. Sy onderskryf hul ‘Water vir Lewe’-projek. Dit behels die verkoop van gebottelde water om betrokkenheid uit te beeld en geld in te samel om mense te help. Soos water wat lewe gee, gee hulle hoop en betekenis aan mense in moeilike omstandighede.

In 2010 en 2011 is Amore gekies as die gewildste Afrikaanse omroeper en het al verskeie ATKV-Veertjies verower.