Epos

Aanbieders

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren
Biografie

Ná die adrenalien-inspuiting van my eerste voorblad by Perdeby, Tuks se studentekoerant, het ek geweet ek wil ‘n joernalis word. Na vier jaar by dié koerant, waartydens ook twee jaar as nuusredakteur en redakteur, asook ‘n jaar by Tshwane Beeld, het my kop uitsaaiwese toe gestaan. In 2006 begin ek die eerste keer as ‘n vryskut joernalis by  RSG se aktualiteitsprogramme Monitor, Spektrum en Naweekaktueel .

Dikwels het studies, vliegtuie en goeie stories saamgegaan. In 2007 het ek as deel van my meestersgraad as uitruilstudent na Hamburg in Duitsland gegaan. As deeltydse Monitor-korrespondent het ek probeer om met my mikrofoon die kleure, geure en identiteit van ‘n plek vas te vang – en daarna dit in ‘n storie te redigeer. Ek het gereis vanaf die Berlynse rolprentfees tot selfs by Sarajevo, Bosnië. En na tien maande in Europa is dié kontinent in my bloed.

Ek sukkel baie om op te hou studeer en ek het my MPhil in Joernalistiek in 2009 met ‘n BTech-graad in Film en TV-produksie opgevolg. Die gevolg was die vollengte rolprent, Wolf Wolf, wat ek met die hulp van 19 ander regisseurs geskryf en vervaardig het. (Voorwaar ‘n eksperimentele projek!) Sedertdien geniet ek dit ewe veel om feitelike sowel as fiksie draaiboeke te skryf – en behoort ek aan die Skrywersgilde van Suid-Afrika (WGSA).

In 2010 is ek geseën met twee loopbaanhoogtepunte. Ek het eers die kans gekry om as buitelandse joernalis stories rondom die junior sokker wêreldbeker in Egipte en die sokker wêreldbeker in Suid-Afrika te doen. Nadat veiligheidswagte die media om elke hoek en draai in Kaïro gevolg het, was dit heel maklik om in Suid-Afrika stories oor vuvuzelas en nog wat te doen. Daarna het ek ‘n internskap in Duitse radiojoernalistiek in Düsseldorf, Duitsland, gedoen – maar nou moes ek al die nuus wat ek gewoonlik met gemak in Afrikaans doen, in Duits oorvertel.

Sedert 2011 werk ek weer as deeltydse verslaggewer by RSG se nuusaktualiteitsprogramme en gee klas in draaiboekskryf by Wits en Tukkies. Tussendeur studeer ek aan ‘n Ph.D in Kreatiewe Skryfwerk by UP.

Nes my gunsteling Franse hoedjies, probeer ek my drie hoede as joernalis, draaiboekskrywer en dosent met ewe gemak dra. En as ek nie kuier, fliek of lees nie hou ek my lyf swaardvegter en skerm vir die Tuks en Noord-Gautengspan.