Epos

Aanbieders

Johann Pieterse

Johann Pieterse
Biografie

Johann is RSG se stasieregisseur en is verantwoordelik vir die laai van programme, die skep van talle promos wat luisteraars daagliks op lug hoor asook die skedulering daarvan.

Toe Johann in standard 7 sy voet in ‘n rugbywedstryd breek, het hy letterlik niks gehad om te doen nie. “Ek koop toe ‘n ou staalsnaar kitaar vir R250 en begin speel. Ek het met my vingers gespeel... tot die bloed loop!”

Die saadjie is geplant en so het Johann ‘n liefde vir klank en radio ontwikkel. “My passie vir radio of klank, vloei uit my passie vir musiek. Ek het met radio in die huis grootgeword. Die radio was altyd aan en op RSG.”

Hy is in Kemptonpark gebore, waar hy ook grootgeword het en woon deesdae in Randburg. Sy liefde vir musiek wissel van harde rock soos dié van Metallica, Rammstein en System of A Down tot die bluesklanke van Eric Clapton. “Ek beskou die blues as die vader van alle moderne musiek.”

Johann is veral versot op die tydloosheid van radio en die kreatiewe vryheid van die medium. “Dit is ‘n kuns om iemand iets in hulle verbeelding te laat sien, sonder ‘n prentjie. Dit is ‘n wonderlike gevoel as jy dit regkry.”

As hy nie in sy vrye tyd musiek skryf, speel of luister nie, geniet hy ook uiteet en beskryf homself as ‘n adrenalien-junkie. “Ek het al ge-bungee jump, ge-haaiduik (in ‘n hok) en paintballing gedoen. Maar die lekkerste tyd weg van die werk is saam met my geliefdes en familie.”