EposTwitter

Aanbieders

Hanri Wondergem

Hanri Wondergem
Biografie

‘n Lewenslustige blondine wat amper elke dag as ‘n uitdaging sien, sukkel om nie te lag nie en kan lief hê met haar hele bestaan – so beskryf Hanri Wondergem haarself.

Sy het in 2012 die koerantwêreld verlaat en is sedertdien by RSG se nuusaktualiteitsprogramme, Monitor en Spektrum, betrokke.

Sy het groot waardering vir mense wat oprege, stiptelik en amper belaglik vrolik is. As sy nie by die werk is nie, is sy ‘n partytjiedier wat die naglewe van Johannesburg saam met vriende ten volle geniet, ‘n natuurliefhebber wat met ‘n rugsak iewers in die bosveld stap of ‘n grapjas wat met sarkasme vriende (en vreemdelinge) vermaak.

As iemand haar oor haar kinderlewe vra, antwoord sy met ‘n breë glimlag dat sy ‘n plattelandse nooi is en dat dit nie ten spyte van ‘n klein dorpie is dat sy ‘n sukses van alles maak nie, maar te danke daaraan.

Hanri se alma mater is die Noordwes Universiteit Potchefstroomkampus en sy sal enige tyd luidkeels skree: “Eenmaal ‘n Puk, altyd ‘n Puk!” en ja, sy het haar BA-graad met lekkerkry klaargekry.

(En vir die wat wonder oor die vreemde van – Hanri se oupa grootjie het uit België na Suid-Afrika gekom.)