EposTwitter

Aanbieders

Christelle van Tonder

Christelle van Tonder
Biografie

Christelle van Tonder het in 2012 tydens haar internskap by RSG begin werk en is van 2013 af as vryskutomroeper by die radiostasie aangestel. Aan die begin van Augustus 2013 het Christelle as permanente omroeper by die RSG-span aangesluit.

Christelle is ‘n aktrise wat haar graad in drama en die rolprentwese aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) in Pretoria verwerf het. Sy het daarna onderwys by Tukkies gestudeer en die land deurkruis as lid van ‘n kinderteatergeselskap.

Christelle kan Vrydagaande gehoor word as die aanbieder van die aandskof van 18:00 tot middernag waar sy ook die plaaslike musiekprogram OPPIRADIO aanbied. Daarin gesels sy met gevestigde musikante en opkomende talent.

Behalwe vir ‘n liefde vir musiek, het Christelle ook al haar staal gewys as bobaas dokumentêre programmaker vir RSG. Sy het al uitdagende en swaar temas aangepak soos outisme (‘n Onderstebo wêreld), mensehandel (As ‘n mens gesteel word), haweloses (‘n Lewe met leë hande), transgender individue (Meer as net blou of pienk), tieners in die tronk (In die koue kloue) en angsverteuring (As bang begin byt).

Christelle is ‘n fiksheidsfanatikus en spandeer graag haar vrye tyd in die gimnasium waar sy die sport Crossfit beoefen.

Op grond van haar sterk drama-agtergrond het sy ook al ‘n rolletjie vertolk in PG du Plessis se radiodrama, Teerling: Die opblaasmatrassie. “Ek hoop daar is meer sulke geleenthede, want ek is versot op die teater en geniet die uitdagings van radioteater. Ek het ‘n liefde vir radio ontwikkel wat ek hoop nie maklik sal kwyn nie. Dit is so ‘n intieme en sensitiewe medium, wat baie magtiger is as wat baie mense besef,” sê Christelle.