Epos

Aanbieders

Johann Russouw

Johann Russouw
Biografie

Johann Russouw het in die Strand grootgeword en aan die Hoërskool Hottentots-Holland (Somerset-Wes) gematrikuleer. Na die afhandeling van sy studie [BA (Hons)(Geografie) + Sekondêre Onderwysersdiploma] aan die Universiteit van Stellenbosch, het hy vyf jaar lank skool gehou. Na 'n 3½ jaar verbintenis met die Randse Afrikaanse Universiteit het hy in 1980 as omroeper by die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK aangesluit. Toe Radio Algoa in 1985 begin uitsaai het, is Johann na dié nuwe handelsender in Port Elizabeth oorgeplaas en in 1989 het hy weer na die Afrikaanse Radiodiens teruggekeer. Afgesien daarvan dat Johann 'n breë belangstelling in sport het, het hy self aan atletiek deelgeneem en was hy vier keer die WP verspringkampioen asook die SA Universiteite verspringkampioen. Hy het ook een keer die Transvaalse driesprongtitel gewen. Johann het veral sy merk gemaak as sportkommentator en -joernalis. Hy was onder andere al twee keer vereer as Suid-Afrika se beste atletiekjoernalis en by drie geleenthede het hy die gesogte Sportjoernalis van die jaar (1995, 1996 & 2003) titel gewen. Sy belangrikste bydrae tot die sportjoernalistiek is sy poging om sokker vir die Afrikaanse radioluisteraar toeganklik te maak en Johann is die eerste radiokommentator wat 'n volledige sokkerwedstryd in Afrikaans uitgesaai het (eindstryd van die Afrika Nasies Kampioenskap in 1996 tussen Suid-Afrika en Tunisië). Johann se musiekbelangstelling lê by die klassieke en hy hou veral van opera en konsertmusiek. Sy gunsteling komponiste van konsertmusiek is Beethoven en Mozart en sy gunsteling operakomponiste is Puccini, Bellini en Verdi. Hy en sy vrou, Miemie, is in 1976 getroud en hulle het 2 kinders en twee kleinkinders.