Nou op die lug

driesestig

12:00-13:00

Interaktief

Epos

Aanbieders

TERUG NA AANBIEDERS

Marí Hudson

  • Gesondheid 16 September 2020
    Woensdag 16 September 2020

    Met die Tour de France, een van die gewildste fietswedrenne in die wêreld, tans aan die gang, gesels Marí Hudson met ‘n sportwetenskaplike oor die wetenskap van mededingende fietstoere. Wat is die eienskappe van ‘n ideale toerwenner om tydrenne te wen, maar ook die berge aan te pak? Is die wentye swakker as in die tyd van Lance Armstrong? Indien nie, is verbode middels dan steeds ’n deel van sulke fietstoere?

  • Gesondheid 9 September 2020
    Woensdag 9 September 2020

    ‘n Beenmurg-oorplanting kan iemand met ‘n sekere soort bloedkanker (leukemie) se lewe red. Hoe werk dit? Vir watter pasiënte kan dit help? Waarom word beenmurg gebruik om kanker van bloedselle te behandel? Wanneer word skenker-beenmurg gebruik en wanneer die pasiënt se eie beenmurg? Marí Hudson praat met prof. Vernon Louw, hoof van kliniese hematologie van die Universiteit van Kaapstad, oor beenmurgoorplantings.

  • Gesondheid 2 September 2020
    Woensdag 2 September 2020

    Akteur Hykie Berg se onlangse uitlatings oor Ritalin het ’n storm ontketen en saai groot verwarring onder ouers met kinders met ADHD, wat met Ritalin of soortgelyke middels behandel word. Hoe werk Ritalin? Waar pas dit in in die behandeling van ADHD? En is Hykie se uitlatings wild? Wat is die waarheid? Marí Hudson praat met ’n psigiater wat gereeld kinders en volwassenes met ADHD behandel, oor Ritalin en ADHD, en probeer die kwessies opklaar.

  • Gesondheid 26 Augustus 2020
    Woensdag 26 Augustus 2020

    Kan enige dokter netso, sonder enige amptelike mediese of ander ondersoeke, in hegtenis geneem word as ‘n pasiënt sterf. Kan ’n dokter sonder enige uitslag van ’n na-doodse ondersoek, enige ondersoek na die kliniese omstandighede, gearresteer en in boeie in ’n vangwa na polisieselle geneem word? Word dokters in Suid-Afrika gekriminaliseer? Is enige pasiënte se dood dan moontlik strafbare manslag? Waar laat dit dokters wat ernstige siek mense se lewe probeer red? Watter prosedures behoort gevolg te word as nalatigheid vermoed word? Marí Hudson praat met twee verteenwoordigers van dokters en chirurge in Suid-Afrika oor dié kommerwekkende kwessies.

  • Gesondheid 19 Augustus 2020
    Woensdag 19 Augustus 2020

    Augustus is Orgaanskenkingsmaand, maar orgaanskenking het weens die COVID-inperkings in die hek geduik, en pasiënte wag dringend op hart-, nier, lewer- en ander oorplantings. Wat is die situasie nou? Hoe sal dié programme, wat só afhanklik is van die publiek se samewerking, weer aan die gang kom? Marí Hudson gesels met dr. Susan Vosloo, 'n Kaapstadse hartchirurg, oor dié kwessies.

  • Gesondheid 12 Augustus 2020
    Woensdag 12 Augustus 2020

    Immunisering, vaksinering, inenting – verskillende benoemings vir die toedien van ’n entstof om te keer dat die ontvanger ’n siekte opdoen. Het vaksiene werklik ’n verskil gemaak aan siektes en sterftes? Is dit veilig? Wat sal gebeur as jy níé jou kind laat vaksineer nie? En wat van die gebrek aan vaksinering tydens die Covid-inperkings? Marí Hudson gesels met ’n pediater oor dié kwessies.

  • Gesondheid 5 Augustus 2020
    Woensdag 5 Augustus 2020

    Waar staan ons met Covid in Suid-Afrika? In watter provinsies het dit reeds die kruin bereik, en hoe weet ons dit? Het die inperkings die kruine in die provinsies verlaag? Wat kan Suid-Afrika verwag met ’n tweede golf? Steur die regering hulle enigsins aan die meer akkurate voorspellings deur PANDA? Marí Hudson praat met een van die lede van PANDA oor die voorspellings en modelle. PANDA (Pandemic Data & Analysis) is ’n groep aktuarisse, ingenieurs, dokters en ander beroepsmense wat hulle kundigheid saamvoeg.

  • Gesondheid 29 Julie 2020
    Woensdag 29 Julie 2020

    Wat is die verskil tussen virustoetse en teenliggaamtoetse vir Covid-19? Wat gaan aan met die staat se getalm met goedkeuring van teenliggaamtoetse wat in ’n laboratorium gedoen word? En waarom wil die staat sekere inligting nie bekend maak nie? Is hier ’n teenliggaam-slang in die gras? Marí Hudson het navorsing gedoen, en belig die kwessie van alle kante.

  • Gesondheid 22 Julie 2020
    Woensdag 22 Julie 2020

    Die nuwe Coronavirus is ’n geslepe derduiwel. Hy kan mense op verskillende maniere siek maak, en buiten die longe, bloedstolling en die senustelsel, verkeie ander organe en stelsels aantas. Dis veral die virus se uitwerking op die pankreas, tiroïed en hipofise wat dokters laat dink, en moontlik verklaar waarom mense wat oorgewig is en diabetes het, makliker ernstig siek word. Marí Hudson praat met prof. Tess van der Merwe, 'n endokrinoloog, oor die uitwerking van Covid op die organe, en hoe dit plaasvind.

  • Gesondheid 15 Julie 2020
    Woensdag 15 Julie 2020

    Italië het ’n neuro-COVID-eenheid om aandag te gee aan die langtermyn gevolge van Covid-19 op die brein en die senustelsel. Die verlies aan reuk en smaak is weens die virus se regstreekse uitwerking op die senustelsel. Marí Hudson praat met dr. Eugene Allers, 'n psigiater, oor die impak van Covid op die brein en senustelsel, en die lang ‘stert’ van Covid.