Nou op die lug

driesestig

12:00-13:00

Interaktief

Epos

Aanbieders

TERUG NA AANBIEDERS

Marí Hudson

  • Gesondheid 5 Augustus 2020
    Woensdag 5 Augustus 2020

    Waar staan ons met Covid in Suid-Afrika? In watter provinsies het dit reeds die kruin bereik, en hoe weet ons dit? Het die inperkings die kruine in die provinsies verlaag? Wat kan Suid-Afrika verwag met ’n tweede golf? Steur die regering hulle enigsins aan die meer akkurate voorspellings deur PANDA? Marí Hudson praat met een van die lede van PANDA oor die voorspellings en modelle. PANDA (Pandemic Data & Analysis) is ’n groep aktuarisse, ingenieurs, dokters en ander beroepsmense wat hulle kundigheid saamvoeg.

  • Gesondheid 29 Julie 2020
    Woensdag 29 Julie 2020

    Wat is die verskil tussen virustoetse en teenliggaamtoetse vir Covid-19? Wat gaan aan met die staat se getalm met goedkeuring van teenliggaamtoetse wat in ’n laboratorium gedoen word? En waarom wil die staat sekere inligting nie bekend maak nie? Is hier ’n teenliggaam-slang in die gras? Marí Hudson het navorsing gedoen, en belig die kwessie van alle kante.

  • Gesondheid 22 Julie 2020
    Woensdag 22 Julie 2020

    Die nuwe Coronavirus is ’n geslepe derduiwel. Hy kan mense op verskillende maniere siek maak, en buiten die longe, bloedstolling en die senustelsel, verkeie ander organe en stelsels aantas. Dis veral die virus se uitwerking op die pankreas, tiroïed en hipofise wat dokters laat dink, en moontlik verklaar waarom mense wat oorgewig is en diabetes het, makliker ernstig siek word. Marí Hudson praat met prof. Tess van der Merwe, 'n endokrinoloog, oor die uitwerking van Covid op die organe, en hoe dit plaasvind.

  • Gesondheid 15 Julie 2020
    Woensdag 15 Julie 2020

    Italië het ’n neuro-COVID-eenheid om aandag te gee aan die langtermyn gevolge van Covid-19 op die brein en die senustelsel. Die verlies aan reuk en smaak is weens die virus se regstreekse uitwerking op die senustelsel. Marí Hudson praat met dr. Eugene Allers, 'n psigiater, oor die impak van Covid op die brein en senustelsel, en die lang ‘stert’ van Covid.

  • Gesondheid 8 Julie 2020
    Woensdag 8 Julie 2020

    Die voorspellingsmodelle vir COVID-sterftes in Suid-Afrika en die wêreld het die sterftes geheel en al oorskat. Waarom? ’n Groep aktuarisse, ingenieurs, dokters en ander beroepsmense wat hulle kundigheid saamvoeg in PANDA (Pandemic Data & Analysis), baseer hulle voorspellings, wat uitsonderlik in die kol is, op ’n spesifieke S-kurwe. Marí Hudson gesels met een van die lede van PANDA, wat verduidelik hoe die voorspellingsmodel werk, hoe COVID verder in Suid-Afrika sal verloop en waarom hulle voorspel dat die sterftesyfer op sowat 11 000 sal draai en nie by 320 000 of selfs by 80 000 of 44 000 nie.

  • Gesondheid 1 Julie 2020
    Woensdag 1 Julie 2020

    Covid-19 is besig om op vier vlakke psigies sy tol te eis: Die vrees vir die virussiekte, die uitwerking van die inperking, ingehoktheid en isolasie, die bekommernis oor jou werk en toekoms en die regstreekse uitwerking van die virus op die brein. Depressie, aggressie en selfs selfmoord kan nie geïgnoreer word nie. Marí Hudson praat met dr. Eugene Allers, 'n psigiater, oor die impak van die Covid-situasie op die psige.

  • Gesondheid 24 Junie 2020
    Woensdag 24 Junie 2020

    Covid-19 is steeds besig om ons daaglikse gang en lewe te oorheers. Ons moet onthou dat meer as 90% van mense met Covid-19 asimptomaties is of net ligte of matige simptome het. Die siektebeeld is nie heeltemal dieselfde by alle pasiënte nie en ook nie by alle pasiënte wat sieker word nie, en dis juis die onvoorspelbaarheid van die wending van die siekte wat angstigheid veroorsaak. Marí Hudson praat met prof. Vernon Louw, hoof van kliniese hematologie by die Universiteit van Kaapstad en die Groote Schuur Hospitaal, oor die jongste insigte.

  • Gesondheid 17 Junie 2020
    Woensdag 17 Junie 2020

    Hoe belangrik, akkuraat en betroubaar is COVID-19-toetse? Hoe toets mens vir COVID-19? Wat kan uit positiewe en negatiewe uitslae afgelei word? Is dit die alfa en omega van voorkoming en behandeling? Marí Hudson gesels met ’n virologiese patoloog om antwoorde op hierdie vrae te vind.

  • Gesondheid 10 Junie 2020
    Woensdag 10 Junie 2020

    Twee dokters op Stellenbosch se benadering met Covid-pasiënte konsentreer op vroeë behandeling met gewone en plaatjiegerigte antistolmiddels, asook ’n spesifieke middel om bestaande stolsels op te los. Die sukses van dié benadering kan nie geïgnoreer word nie, al is dit nog net op 22 pasiënte toegepas. Bring dié benadering nuwe hoop? Waar pas stolling in die COVID-siektebeeld in? Marí Hudson probeer om antwoorde op vrae te vind oor die werking van die virus, en die jongste behandelingstrategieë.

  • Gesondheid 3 Junie 2020
    Woensdag 3 Junie 2020

    Meer as vyf maande gelede het COVID-19 in Wuhan in China uitgebreek, en sedertdien na alle wêrelddele versprei. Weet medici nou meer as vyf maande gelede? Is daar aanvanklike waarnemings wat nou as foutief deurskemer? Is daar groter duidelikheid oor die behandeling? Hoe hanteer dokters in die voorste linie die pasiënte, en kan hulle voorspel watter pasiënte sal herstel en wie nie? Marí Hudson praat met dr. Jantjie Taljaard, 'n infeksiespesialis by die Universiteit Stellenbosch se mediese skool en die Tygerberg Hospitaal, oor die lesse wat geleer is.